Die Sweedse Koninklike Akademie vir Wetenskappe het die 2016 Nobelprys vir Fisika aan drie Amerikaners toegeken. Die een helfte van die prys gaan na David Thouless. Die ander helfte word gesamentlik aan Duncan Haldane en Michael Kosterlitz toegeken. Hulle ontvang die prys vir die teoretiese ontdekkings van die topologiese fase-oorgange en topologiese fases van stowwe. Die Dekaan van Navorsing en Nagraadse Studies by die Department Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg, prof. Andre Strydom, sê dit is die mees opwindende tyd in die vakrigting. Hy sê baie nuwe ontdekkings word gemaak wat verreikende gevolge vir die mensdom kan hê.
"Die storie van ons tyd." Só het 'n amptenaar by die Verenigde Nasies se Komissariaat vir Vlugtelinge in Geneve die wêreldwyde vlugtelingekrisis beskryf. Meer as eenmiljoen Siriese vlugtelinge dra amptelik die status van vlugtelinge in Libanon. Die Libanese het hullehande behoorlik vol, tot so 'n mate dat die regering die VN al in Mei verlede jaar gevra het om geen meer vlugtelinge te registreer nie, omdat hulle nie kan voorbly nie. Anita Visser het Libanon ;n ruk gelede saam met die Christelike nieregeringsorganisasie, INCONTEXT MINISTERIES, besoek en eerstehands met die vlugtelinge daar gaan praat.
Die SAUK het gister vier senior bestuurslede se kontrakte uitbetaal. Hannes du Bussion, die woordvoerder van een van die vakbonde by die korporasie, Bemawu, het dit bevestig en gee meer besonderhede.
'n Voormalige aanbieder van Monitor, Anne Marie Bezdrob, is Sondag in 'n motorongeluk oorlede. Sy was 65 jaar oud. Bezdrob was van Augustus 1998 af tot April 2001 by Monitor betrokke. Dianke Nel het hierdie huldeblyk saamgestel.
Die landboumaatskappy, Monsanto, het die regte van tegnologie aangeskaf, wat kritici van genetiese gemanipuleerde organismes se monde kan snoer. Die tegnologie, Crispr, maak gebruik van genetiese redigering, eerder as manipulering. Melissa Tighy het meer daaroor uitgevind by 'n professor in Genetika by die Fakulteit Agri-Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, Johan Burger.
'n Ruimtenavorsingsprojek wat alreeds in die jare sewentig begin is, sal Vrydag op 'n dramatiese wyse tot 'n einde kom. Die Rosetta-ruimtetuig sal na verwagting om 12:40 Suid-Afrikaanse tyd teen die komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko bots. Melissa Tighy het by 'n seniornavorsingsgenoot by die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap, dr. Pieter Kotze, gaan uitvind wat die rede vir die botsing is.
Die situasie by die Nasionale Vervolgingsgesag is 'n groot bron van kommer vir die geskorsde hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Johan Booysen. Dit volg nadat die adjunkdirekteur van die NVG, Nomgcobo Jiba, en die hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, Lawrence Mrwebi, verlede week van die advokaterol geskrap is.
'n Dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika, Dirk Kotze, het aan Marlinee Fouche gesê verdedigingsooreenkomste tussen Suid-Afrika en Turkye is nie so haalbaar soos wat dit klink nie. Dit ten spyte van 'n minstens 'n honderd jaar se samewerking tussen die twee lande.
Die wapenvervaardiger Denel het 'n missiel bekendgestel wat saam met sy Skyshield-stelsel werk, om ander wapenstelsels te teiken en te vernietig. Lede van die Suid-Afrikaanse Weermag wat in Afrika-lande ontplooi is, word deur mortiere en kortafstandgrofgeskut bedreig. Die hoofingenieur van die projek, Reinhardt Moraal, het vir Justin Kennerley gesê 60 van die Cheetah-missiele kan op 'n vragmotor gemonteer word.
Afgetrede regter Zak Yacoob het onthul dat die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, hom geraadpleeg het oor die stigting van intelligensie-eenhede by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Daar word nou beweer dat hierdie eenhede onwettig was en hulle met spioenasie besig gehou het. Regter Yacoob het by 'n funksie in Durban aan vooraanstaande struggle-veterane gesê die eenhede is heeltemal wettig. Gaste by die funksie het gehoor die ondersoek na die eenheid is deel van 'n veldtog om beheer oor te neem van grondwetlik onafhanklike instellings. Dries Liebenberg berig.
5 min
About Monitor
From the publisher's feed
Die Monitorspan hou jou op hoogte met die jongste plaaslike en internasionale nuusgebeure.