Net soos vorige jare het ons sopas Paasfees gevier. Dit is soveel meer as net ‘n lekker langnaweek. In Paasfees sien ons dat Jesus die dood oorwin het en opgestaan het, maar tog leef ons soms asof Jesus nie lewe nie, asof Hy nooit uit die dood opgestaan het nie. Met ons nuwe reeks gaan ons kyk na hoekom ons sukkel om te lewe asof Jesus opgestaan het. Deur die oë van ‘n volgeling wat leef asof Jesus opgestaan het, gaan ons na vrae en uitdagings van die lewe kyk. Marius Malan het die reeks vir ons afgeskop en gesels oor as Jesus lewe, hoekom sukkel ons om te glo? Geloof is nie net kopkennis en 'n paar mooi stories wat ons ken nie. Geloof is dit waarvolgens ons leef en wat ons koers bepaal. Dalk het ons toegelaat om al die dinge van God te hoor en te sien, maar iewers het ons ophou glo in God.