
Sign up to save your podcasts
Or


“Geloof in Christus lei tot vrede met God wat lei tot hoop in God wat lei tot die wonderlike ervaring van God se liefde.” (Ray Fowler)
Terwyl ek Rom 5:1-5 lees, besef ek dat dit eintlik vir ons die opsomming vir Adventstyd is. Dit is die enigste teksgedeelte (waaraan ek kan dink) waar al vier die kernwoorde – hoop, vrede, vreugde en liefde – in een paragraaf verskyn. Paulus voeg by hierdie hemelse kwartet nog ook ’n vyfde een: geloof. Hierdie gedeelte is soos skakels wat die een aan die volgende vasbind. Breek een, breek die ketting. Ons kan nie uit hierdie versameling een weglaat of een belangriker ag as die ander een nie; dan versteur ons die balans van God se plan.
Rom 5:1-15 is die kortste opsomming van genade: danksy geloof (ook genoem vertroue) is daar harmonie (vrede) tussen ons en God. Die toegang na God se onuitputlike genade is bloot dit: geloof! Dit alleen is genoeg om jou met vreugde te vervul, maar voeg nou nog daarby dat jy ook die hoopvolle sekerheid het op grond van God se beloftes dat ons deel kan hê aan álles wat aan God behoort. Sonder hoop kan geen mens leef nie, en hier bied God dit vir ons in oorvloed aan. Alles op ons pad (selfs lyding) maak ons geloof in God net sterker! Wie sal dan nou nie dankbaar wees nie! En soos ons geloof groei, so groei ons hoop ook. Daar is geen grens aan die hoop nie, want dit is ingebed in die onuitputlike liefde van God.
Sien jy hoe die skakels in mekaar invleg: vertroue bewerk vrede– want alles tussen jou en God is reg. Dit is die hoop wat aan ons lewens betekenis gee. Daarom is ons vol blydskap, want, ten spyte van swaarkry, weet ons dat God se liefde ons toevou.
Dit is die opsomming van die christelike geloof: die storie van God se genade.
GEBED: Here, U is my hoop, my vrede en my vreugde.
KUNS: “Peace On Earth" is 'n skildery deur Renie Britenbucher.https://fineartamerica.com/featured/2-peace-on-earth-renie-britenbucher.html
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
MUSIEK: Op Dag 5 van #AdventAvontuur kyk ons na die nuwe musiekvideo van Blanca se treffer Blanca “Gozo Y Paz” (God Rest Ye Merry Gentlemen) saam met Alex Campos. Blanca Elaine Reyes (gebore 10 Februarie 1986) is 'n Puerto Ricaans-gebore Amerikaanse kontemporêre Christelike musiek sanger-liedjieskrywer.
https://youtu.be/HYnB7HGJOhI
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
“Geloof stap hoër op met die trappe wat liefde gebou het om by die vensters wat hoop oopgemaak het te kan uitkyk” (Charles Spurgeon)
'n Mens kan nie anders as om by die profete te begin wanneer ons oor Advent praat nie. Die eerste adventskers wat aangesteek word (hierdie jaar op 27 November) is tradisioneel “Die Kers van Profesie” genoem. Dit was die Ou Testamentiese profete wat die vlam van hoop vir die Joodse volk brandend gehou het in 'n tyd toe dit gelyk het of die duisternis hulle sou oorweldig (Jes 9:1). Vir soveel eeue is die Jode onderdruk en het hulle vasgehou aan die belofte: “'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai … Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here” (Jes 11:1,3). Selfs Paulus haal hierdie woorde aan: “Isai sal 'n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig” (Rom 15:12-13). Die Een wat sal kom sal die Hoop vir die nasies wees!
Op die tweede Adventsondag word die Bethlehem Kers aangesteek. Dit is ons herinnering dat die profesieë een wintersnag in Bethlehem vervul is toe die engele die skaapwagters in die veld besoek het. In die vlam van die tweede kers gedenk ons God se liefde. Soos Johannes getuig ons saam in geloof, dat God die wêreld só lief het, dat God bereid was om self - in die gestalte van 'n mensekind –gebore te word (Joh 3:16).
Die twee kersvlamme van hoop en liefde brand, maar dit kan net in geloof gesien word. Soos Augustinus gesê het “Sonder liefde is daar geen hoop nie, geen hoop sonder liefde nie, en geen liefde of hoop sonder geloof nie.”
Die twee adventskerse mag dalk oral in kerke en katedrale aangesteek wees, maar wat van in jou eie lewe? Hoe sterk brand jou vlam van geloof, hoop en liefde?
GEBED: Here, laat die vlam van Advent my lewe verlig.
KUNS: “De aanbidding van het Christuskind”. (1515) deur ’n leerling van Jan Joest (Nederland). Olie op hout. Tans in die Met in New York.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
MUSIEK: Op Dag 4 van #AdventAvontuur luister ons na “While Shepherds watched their Flocks” deur die internasionale Libera-koor.
Uit die liriek:
While shepherds watched their flocks by night
All seated on the ground
The angel of the Lord came down
And glory shone around
"Fear not", said he, for mighty dread
Had seized their troubled mind
"Glad tidings of great joy I bring
To you and all mankind"
https://youtu.be/-957mF4YRDA
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
“Die seisoen van Advent beteken daar is iets op die horison wat ons nog nooit tevore gesien het nie.” (Jan Richardson)
Al ons feeste in ons kerkjaar is terugkyk-feeste. Kersfees en Lydenstyd, Pase en Pinksterfees is almal die viering van gebeure wat reeds plaasgevind het. Maar, daar is een vorentoekyk-fees wat ons nooi om op ons tone te staan en te sien hoe die dagbreek op die horison begin breek.
Dwarsdeur die Ou Testament lees ons hoe die volk herinner word aan “die God van julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob”. Dit was die tou waaraan hulle kon vashou. (Die woordjie “tou” is juis een van die woorde vir hoop in Hebreeus.) Hier is jou reddingsbaadjie – jy is nie drenkeling in 'n stormsee nie. Kyk terug! Onthou wat God belowe het, dan sal jy ontdek dat dit alreeds besig is om te realiseer. Soos Jesaja sê, “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn 'n pad. Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring” (Jes 43:19). Dit is onmoontlik. Behalwe as jy hoor wie dit beloof: die God wat gister, vandag en môre dieselfde is!
Oor vier weke vier ons die Immanuel-fees. God het by ons kom woon - tog sien ons soveel vereensaamde mense. Oor vier weke sing ons saam met die engele dat God se vrede gekom het - tog leef ons met die realiteit van oorlog, ook in ons tyd. Dit is ons vreugdefees - tog moet ons mekaar in die tyd steeds herinner aan die toenemende geweld teen vroue en kinders. Hoe is dit moontlik om oor hoop te praat as dinge hooploos lyk?
Behalwe as jy leer om te strek, al hoër jou oë te lig. Die beloftes op jou hart skryf en onthou.
GEBED: Ek het onthou nodig, Here, jaar-na-jaar moet U my herinner om die horison nie uit die oog te verloor nie.
KUNS: “Good News To The Shepherds” (1979), deur die Japannese stensilkunstenaar Sadao Watanabe, wat van 1913-1996 geleef het en honderde groot en klein stensileerde uitbeeldings van Bybelse verhale geskep het, veral verhale uit Jesus se lewe. Hy het tradisionele metodes sowel as tradisionele materiale van organiese en minerale pigmente in sojaboonmelk gebruik.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
MUSIEK: Op Dag 3 van #AdventAvontuur luister ons na “Then Christ Came” deur MercyMe saam met Phil Wickham.
Uit die liriek:
Then Christ came
Changing everything, He took my sin and shame away
Now every song
I sing will be for him, еver since the momеnt He walked in
Then Christ came
I was searchin' for a reason to believe that I could ever really matter
Ever matter
I was hopin', I was reachin', so desperate for my soul to find its Savior
I need a Savior
https://youtu.be/Gd7tPIN7le4
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
“Die Here kom. Die Here kom. Wie ore het om te hoor en oë om te sien, sal Sy koms herken die oomblik wanneer hy in jou lewe arriveer. Die lewe is 'n advent; die lewe gaan daaroor om die Here te herken.” (Henri Nouwen)
In die woordjie “advent” hoor jy reeds 'n ander woord “adventure” – avontuur. Die woordeboeke sê 'n avontuur is 'n buitengewone gebeurtenis. Jy kan nie vir 'n avontuur beplan nie, want jy het nie beheer daaroor of dit gaan plaasvind nie. Jy kan dit nie beplan nie, maar jy kan daarna uitsien dat dit sal gebeur. “Maak jouself gereed vir die grootste avontuur van jou lewe,” sê die reispamflet.
Het die skaapwagters maar geweet wat vir hulle voorgelê het toe die engele sing, “vandag is vir julle geboren…” Het die dissipels maar net geweet wat vir hulle voorgelê toe die Rabbi vir hulle sê, “volg My!” Het ons maar net geweet wat nog alles vir ons voorlê…
Advent is die tyd in ons kerklike jaar waar ons oefen om met oop oë te leef. “Open the eyes of my heart, Lord,” sing ons. Soos Dawid bid ons: “Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar” (Ps 119:18). Ons dink aan 'n wet as reël, terwyl die Hebreeuse woord presies dit beteken: woord. Maak my ore oop dat ek U kan hoor, want wat U sê is kragtig. Maak my oë oop dat ek U kragtige werk nie miskyk nie. Maak my ontvanklik dat ek die onverwagse gebeurtenisse van U koms – daagliks – in my eie lewe nie systap nie.
Op die eerste Sondag van Advent steek ons die kers van hoop aan. Hoop is om 'n verwagting te hê dat iets wat belowe is sal gebeur. Vandag dalk reeds. En daarom is jy op die uitkyk; maak jy jou gereed.
Die avontuur wag…
GEBED: Maak my oë en my ore oop, Here.
KUNS: “Angels Announcing the Birth of Christ to the Shepherds” (1639) in olie op paneel deur die Nederlandse skilder Govert Flinck. Tans in die Louvre in Parys.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
MUSIEK: Op Dag 2 van #AdventAvontuur kyk ons na ’n musiekvideo Caleb Lining (5 jaar oud se weergawe van “Open The Eyes Of My Heart”.
"Ek is Boo. Ek sing, speel musiek, doen kuns en geniet dit om 'n kind te wees en lief te wees vir die lewe!" vertel Caleb.
The Linings is 'n Christelike gesin. Pa Michael het sy eie Youtube-kanaal wat toegewy is aan A Capella Christelike musiek, Barbershop-harmonie en instrumentale verwerkings. Ma Mandy is 'n sanger-liedjieskrywer en het haar eie Youtube-profiel. Boo het op 2-jarige ouderdom met musiekopleiding begin en het 'n 2.5 oktaafreeks en perfekte toonhoogte. Hy sing graag Disney-musiek, Christelike musiek en maak sy eie liedjies op.
https://youtu.be/08DgeCQA09s
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
“Die viering van Advent is slegs moontlik vir diegene wat in hul siele onrustig voel, en wat weet dat die wêreld gebroke en onvolmaak is en daarom uitsien na iets nuut.” (Dietrich Bonhoeffer)
Toe ek 'n kind was was Paasfees en Kersfees die groot kerktye op die kerkalmanak. Natuurlik ook Pinkster. Lydenstyd was gelyk aan Paasnaweek – dit het eers later 'n 40-dae viering geword. Toe was Aswoensdag glad nie in ons woordeskat nie, ook nie Advent nie. Intussen het ek geleer dat christene se kerklike jaar nie op 1 Januarie begin nie, maar op die 4de Sondag voor Kersfees. (Hierdie jaar was dit 27 November.) Sommige mense dink dalk met hierdie vier weke tel ons die dae na Kersfees af, maar eintlik herinner ons mekaar om nie te vergeet om die dae na die tweede koms van Christus af te tel nie!
Die eerste belofte van die Messias het realiseer. Nou begin ons uitsien - kyk net hoe lyk die wêreld: stukkend; vervalle; geestelik armoedig. Advent herinner ons aan die belofte aan 'n tyd waar daar nie meer trane sal wees nie. Daarom sug “die Gees en die bruid (en) sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op 22:17).
Advent is raaksien- en nadinktyd. Dit is dié tyd waar ons verwagting oor iets nuuts wat belowe is weer aangewakker word. Dit is die tyd waarin ons mekaar herinner om nie met die tweede beste tevrede te wees nie … die beste lê nog voor! Jesus het dit belowe: “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh 14:2-3).
Ons wag, Here, kom gou!
GEBED: Maak dié Advent vir my 'n nuwe tyd, Here.
KUNS: “Aankondiging Aan Maria”: Muurskildery deur 'n onbekende kunstenaar uit die Clarissan-klooster naby Spoleto in Italië (Geskilder in ongeveer 1300). Tans in die Glencairn Museum.
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskap op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#AdventAvontuur #LeefHoop #ElkeDag #Advent
MUSIEK: Op Dag 1 van #AdventAvontuur kyk ons na ’n video-opname van Deon Meiring se lied “Gee ons rus”. Hy het dit tydens 2016 se Kersseisoen geskryf en die lied se musiek is ook die agtergrondmusiek vir ons potgooie en bemarking die maand. Deon noem dit ’n Interpretasie van Kersfees.
Uit die liriek:
Hierdie wêreld het genoeg
van dieselfde ou konings
op dieselfde ou trone
met dieselfde dooie drome
wanneer laas is daar 'n kind
in 'n krip gekroon
wanneer kan ons in 'n ware
vredemaker glo
gee ons rus
in die stede
waar die ligte altyd brand
laat ons afskakel
wys ons waar
daai helder ster nou hang
vrede vir ons planeet
wat so dors is
mag ons skoonheid herontdek
daar waar skoonheid
vermors is
Doen is ’n trotse ontvanger van ’n Cordis Trust Orde van die Beiteltjie. Hy het tydens dié ontvangs gesê skeppende werk, soos woordkuns, kan soms eensaam wees. ’n Toekenning soos die Orde van die Beiteltjie vir 2020, waarmee hy pas bekroon was, is ’n manier om met die wêreld kontak te maak en om ’n brug tussen die kunstenaar en ander mense te bou.
“Dit vra dapperheid. Baie keer raak mens ontmoedig en wonder of die wêreld nodig het wat jy doen? Kan jy nie iets meer sinvol met jou tyd doen nie? Maar as iets soos die Beiteltjie-toekenning egter kom, is dit asof iemand die beiteltjie in my hand sit en sê: ‘maak nóg iets daarmee’.”
https://youtu.be/PeuTyL1XEKc
“U ontvang my soos ˊn eregas. Ek word oorlaai met hartlikheid.” (Ps 23:6)
Elke pelgrimsroete het 'n eindbestemming - ook hierdie reis wat ons ons lewe noem. Psalm 23 beskryf ons aardse reis dalk die beste: deur groen weivelde het ons gestap, maar ons ken ook die paadjies deur die dale-van-droefheid. Daar was tye wat ons verlangend uitgesien het na water om ons dors te les (ook ons geestelike dors), en weer-en-weer is ons na die Bron van Water gebring. Op ons paadjie - net soos die Prediker leer - is daar 'n tyd om die volle teenpole van die lewe te ervaar: om gebore te word en te sterf.
Deur hierdie lewensreis gaan ek nie gesig- of naamloos nie – ek is nie 'n “niemand” nie want, “Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne”, sê God (Jes. 43:1). “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” (Ps 139:15-16 1953-vert.).
Soos Paulus skryf, “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here” (Rom 14:7-8). En is dit nie elkeen van ons se groot gebed, dat ons ons lewe as 'n “Soli Deo Gloria” lewe sal leef nie. Tot op die laaste oomblik.
En dan is daar die belofte van die “Grande Finale” – waar ons met hartlikheid oorlaai sal word. Uitgenooi word om aan te skuif aan die Tafel-van-Goedheid-en-Liefde (Ps 23:5-6).
Dit is die storie van ons lewe. Dit is ons pelgrimsgeloof. Daarom roep ons elke dag, saam met al die gelowiges, die laaste woorde in die Openbaringboek: “Kom, Here Jesus!
GEBED: Amen, Here, Amen.
KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot.
POTGOOIE: Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 30 van #Pelgrims kyk ons na ’n video-opname van Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”. Opgeneem op 25 September 2008 tydens die klanktoets in die Koninklike Teater in Amsterdam.
Vader God U ken my naam
My binnegoed en buitestaan
My grootpraat en my klein verdriet
My vashou aan als wat verskiet.
U ken my vrese en my hoop
Die pad wat ek so kaalvoet loop
Die pad het U lankal berei
Elke swerwer kom weer tuis
Alle pelgrims keer weer huistoe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op U grootpad
Soekend na U boardinghuis.
https://youtu.be/fTsYx8W_2w0
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg” (Mark 8:34)
In 'n klein dorpie in die Klein-Karoo sit 'n kapel hoog bo op 'n bult. Kronkelende S-draadjies is vir die pelgrims met wit klippe uitgepak. Jy kan net te voet by die kapelletjie uitkom en elke jaar stap die stringe gelowiges die voetpaadjie op tydens Paasnaweek. Vroeër jare – so word vertel – was daar gelowiges wat die Goeie Vrydag die paadjie in die donker op hulle knieë begin uitkruip het. Beploed het hulle bo aangekom, gebukkend voor die Gekruisigde.
Ek is vinnig met my kritiek: néé, dit is darem nie nodig nie. Ons is Gereformeerdes. Ons glo mos in genade alleen! Dis nie bloeiende knieë wat ons nodig het nie, dit is geloof alleen! Tog wonder ek sommer, stap ons enigsens die – metaforiese – paadjie na Golgotha nog met bebloede en gebreekte harte, as dit nie met bebloede knieë is nie? Verkondig ons dalk net die opstandingsboodskap, sonder die kruisboodskap?
Die bekende gereformeerde teoloog, Karl Barth, het eenmaal gesê, “Om pelgrim te wees beteken dat jy voortdurend moet terugkeer na die beginpunt van daardie naakte mensdom wat absoluut armoedig voor God staan.” Soos Adam en Eva in die Tuin van Eden daar staan, net geklee in die naaktheid van hul sonde.
Sonder daardie herkenning van jou eie spirituele naaktheid word die genade van God – soos Dietrich Bonnhoeffer herinner – maklik “goedkoop genade.” Goedkoop genade is wanneer daar nie rekening gehou word met die kruis nie. Ons moet, in ons pelgrimstog, hierdie klippie in ons hand vashou! Net soos wat ons die opstanding in ons ander hand vashou. Die een kan nie sonder die ander een nie!
Verstaan ons nog dat “om jou kruis op te neem” álles eers gelos moet word. Dan volg die woorde: “Volg My!” En die paadjie loop reguit verder Golgotha toe. Waar jou sonde vasgespyker word…
GEBED: Here, dit is deur my belydenis dat ek U genade kan ontvang.
KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot.
POTGOOIE: Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 29 van #Pelgrims luister ons na die Nederlandse lied “Ik zie het kruis” gesing deur Pearl Jozefzoon.
Uit die liriek:
Ik zie het kruis van mijn Verlosser
Ik zie het kruis waaraan Hij stierf
Daar aan het kruis droeg Hij mijn zonden
Stierf Hij mijn dood, kocht Hij mijn ziel
Ik zie het kruis van mijn Bevrijder
Ik zie het kruis van Golgotha
Die diepe pijn, de weg van lijden
Die weg is Hij voor mij gegaan
https://youtu.be/cdXVAN7FVGY
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
Advent 2022: 'n Kers vir hoop, een vir vrede, een vir vreugde en die laaste een vir liefde
Op Sondag 27 November begin die nuwe kerklike jaar vir christene wêreldwyd. Dit is die periode wat bekend staan as Advent. Vir vier weke lank steek ons elke Sondag ’n kers aan in ons erediens, 'n kers vir hoop, een vir vrede, dan een vir vreugde en die laaste een vir liefde. En dan, wanneer Kersdag aanbreek het Advent ook tot 'n einde gekom.
Die woordeboeke leer ons dat die woord “Advent” van die Latynse woord “Adventus” afstam. Dit het oorspronklik beteken dat jy die koms van 'n belangrike persoon of 'n belangrike gebeurtenis inwag. Iets groots gaan gebeur.
https://youtu.be/5r7cRd3zwqI
'n Ander Latynse woord wat amper soos “adventus” klink is “advenire”. Dit is waar ons woord in Engels “adventure” vandaan kom. Advent is inderdaad 'n avontuur, want dit gaan oor die toekoms! Behalwe dat ons besig is om voor te berei vir Kersdag om aan te breek; wag ons eintlik vir 'n ander belofte om te realiseer: die tweede koms van Jesus.
Die toekoms hou altyd die moontlikheid van 'n avontuur in. In hierdie geval is Advent die avontuur saam met God, terwyl God besig is om die wêreld nuut te maak.
Ek wil jou uitnooi om in Desember die avontuurskoene van geloof aan te trek en na te dink oor hoe God 'n wêreld wil verander met hoop, vrede, vreugde en liefde.
Kom leer die #Advent Avontuur met 31 meditasies oor 31 dae beter ken. Jy kan hierdie dagstukke of saans, of soggens per whatsapp ontvang. Elke dagstuk word afgerond met 'n bypassende musiekstuk. Jy kan dit ook op my webwerf, Facebook of Instagram lees, of as 'n potgooi op alle groot potgooiplatforms soos Spotify luister. Onthou, daar is ook elke aand 'n aandgebed op Instagram en Facebook.
Ek nooi jou uit om die daaglikse meditasie-boodskap op Facebook, Instagram en op ons webwerf te lees en op potgooi-platforms daarna te luister.
Klik en lees meer oor die reeks: https://ronellbezuidenhout.co.za/advent
Alhoewel ek afhanklik is van vrywillige donasies om hierdie bediening lewensvatbaar te hou, herinner ek mense gereeld: dit ‘n gratis bediening wat oor kontinente heen versprei word. Bydraes wat gegee word is volgens elkeen se persoonlike omstandighede.
Agtergrondmusiek:
Deon Meiring se lied “Gee ons rus”. Hy het dit tydens 2016 se Kersseisoen geskryf.
#pelgrims #leefhoop #elkedag
“Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, … maar ek sal bly (ter wille van) julle.” (Fil 1:23)
Sommige mense glo dat christenwees alles met “hemel toe gaan” te make het. Maar, tog het Jesus se geboorte die Koninkryk van die Hemel aarde toe laat kom.
Christene is die geroepenes wat vir die wêreld moet wys hoe lyk lewe in die Koninkryk van die Hemel (wat reeds hier is), omdat almal weet hoe pynlik is die lewe in aardse koninkryke. Nou reeds kan mense sien wie die God van liefde is, omdat christene selfs hul vyande liefhet. Nou reeds wys ons hoe lyk dit waar vrede heers, omdat christene geroep is om as vredemakers te leef. Ons wys nou reeds die gesig van die Barmhartige God; want ons betoon barmhartigheid. En so kan ons aanhou. Ek wonder hoe anders die wêreld dalk sou lyk as christene nie bangmaak-praatjies oor die hel maak nie, maar ongelowiges eerder jaloers “leef” deur vir hulle te illustreer wat hulle uitmis omdat hulle nie die Koninkryk van die Hemel hul tuiste maak nie.
Beleef ons dit alreeds ten volle? Natuurlik nie! Want ons ken nog net “ten dele.” Ja, reeds woon die Gees van God in ons, en reeds het die Seun van God onder ons kom woon. Maar ons sien steeds nog net in 'n raaisel (1 Kor 13:12). Alles is nog nie volledig vervul soos Jesus dit beloof het nie (Joh 14:2-3). Soos Paulus kan ons sê, ons verlang na die allerbeste - om fisies by Christus te leef. Maar, net so is die “ter wille van ander” vir ons net so belangrik, dat ons eerder ons roeping híér op aarde sal wil afhandel, voordat ons hierdie lewe vir die hemel wil verruil.
Mag dit vir almal van ons waar wees.
GEBED: Here, U het hier vir my 'n werk. Maak my getrou daarin.
KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.
POTGOOIE: Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 28 van #Pelgrims kyk ons na splinternuwe musiekvideo van “That Thank You Song!” deur die groep Citizen Way.
Dit is 'n prettige en energieke lied om dankbaar te wees vir wat God in Christus vir ons gedoen het, verlos, gered en vrygemaak het. Tromme, koor, horings en ’n paar funky basklanke sorg vir energie. Dit is die groep se eerste vrystelling sedert hul 2019-album Love Like A Lion.
Uit die liriek:
Thank You, Thank You
Side to side, choir robes
Can I get a witness from the back row
Church is in session
Alabama look a lot like heaven
Smillin can’t help it
This treasure make a rich man jealous
Happy, Can’t Hide it, Holy ghost in Sunday finest
Lord sweet Lord
You restored my soul
https://youtu.be/hZkiQDw8B4k
“Toe sê sy eienaar vir hom: Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf! … Kom in en deel in my vreugde.” (Matt 25:20-21)
Waarvan ons seker kan wees, is dat ons nie die dood op ons pelgrimsroete hoef te soek nie; dit sal elkeen weldra vind. Waaroor ons wel 'n keuse het, is hoe ons die gawe van die lewe leef. Dit sluit natuurlik ook in hoe ons leef met wat ons van God ontvang het.
Jesus leer dat daar 'n dag sal aanbreek waar die gawe van die aardse lewe vir almal teruggetrek word (aldus Matt 25). Soos 'n boer wat lank weg was en sy plaas in die hande van sy arbeiders gelaat het, en by sy terugkeer van sy plaasarbeiders wil weet of hulle sy opdragte gehoorsaam uitgevoer het, so geld dit vir ons ook. Aan die einde van ons pelgrimsreis, so sê Jesus, is daar een vraag waaroor ons elkeen verantwoording gaan moet doen: was ons gehoorsaam aan die roeping wat ons ontvang het? Aldus Ef 2:10 het God ons “in Christus Jesus geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”
Ons kry nie 'n opdrag en word daarna aan ons eie genade oorgelaat nie. Nee! Petrus herinner ons, “God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei” (1 Pet 4:10, NLV). Ons word toegerus soda tons kan gehoorsaam wees! Genade, geloof en gehoorsaamheid loop altyd hand-aan-hand tot die beswil van mense om ons.
Kan daar groter blydskap wees as om aan die einde van ons pelgrimsreis voor die Boer te staan en te hoor, “Goeie en getroue dienaar, kom in en deel in my vreugde.”
GEBED: Here, laat my lewe deur U Gees beheer word, om die vrug te dra wat wat by dissipelskap pas.
KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot.
POTGOOIE: Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
MUSIEK: Op Dag 27 van #Pelgrims kyk ons na ’n video-opname van die pragtige lied “Gelukwaarts” deur Petronel Baard.
Sy skryf: “Ons almal weet die pad na geluk loop nie reguit nie, maar kronkel oor heuwels, passe en brûe en kan in enige rigting lê. Dit is 'n konstante reis wat meesleur en soms moet jy net toelaat dat branders van die lewe oor jou spoel. Hoe dit ook al sy, ons is almal op reis en dit, hoop ons, Gelukwaarts.”
Die lied is lewendig opgeneem saam met die Suidkaap-kinderkoor onder leiding van Jan-Erik Swart en verwerk deur Johan Engelbrecht vir die koor en die Mosselbaai Strykensemble met Franco Engelbrecht op klavier.
https://youtu.be/mJifBjt-ypA
POTGOOIE: Luister na vandag se boodskappe op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/
#Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag
From the publisher's feed