Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

By Ronell BezuidenhoutReligion & SpiritualityChristianity
Download on the App Store

Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude episodes

  • Dag 16 van meditasie-reeks #Pelgrims

    “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.” (Kol 3:23-24)

    Ek lig my hoed vir mense wat al hulle “ten spyte van’s” kan oorkom en steeds kanse met die lewe waag.  Dit laat my dink aan die kerkvader Irenaues (2de eeu) wat gesê het dat mense wat die lewe voluit leef daardeur vir God verheerlik.  (Of soos dit in engelse bekend is: “the glory of God is a human being fully alive.”) Irenaues se verstaan van voluit leef is anders as ons s'n:  vir hom het iemand voluit geleef as hulle ter wille van hul geloof in Christus die “waagstuk van dissipelskap” ernstig geneem het, sonder dat daar enige waarborg van “sukses” op hul werk sou wees.  Dit is 'n lewensfilosofie veel anders as moderne mense s'n – ons wil eers gewaarborg wees van die sukses van 'n aksie – waarom anders tyd mors met iets wat jy dalk buitendien nie gaan regkry nie.  As dít die vroegste eeue se verstaan van dissipelskap was, sou die kerk vinnig-vinnig gesterf het. Tog leer historici ons dat daar teen die einde van die eerste eeu minder as 10 000 christene was, maar een eeu later was daar meer as 200 000!  Waagmoedige gelowiges.  Waaghalsig vir Christus.   

    Jy hoef nie ver weg te gaan om God met jou lewe te verheerlik nie.  Goeie raad was nog altyd vir my die van John Wesley:   
    Doen al die goeie wat jy kan; 
    gebruik al die middele wat jy kan; 
    doen dit op al die maniere wat jy kan; 
    op alle plekke waar jy kan; 
    te alle tye wat jy kan; 
    aan alle mense aan wie jy kan, 
    solank as wat jy kan.

    GEBED:  Here, gee aan my die waagmoed om U voluit te kan dien!
    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die sestiende dag se skildery is Jesus Walks on the Sea (Jésus marche sur la mer). https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/ 4413
    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 16 van #Pelgrims kyk ons na die musiekvideo van “Ndikhokhele Bawo” soos deur die Kaapstadse Jeugkoor opgevoer die Oberammergau Passiespele-teater in. Duitsland.
    "Ndikhokhele Bawo" beteken “Lei my Vader”.  Die solo is deur Caitlin MacDonald en die koor is onder leiding van Leon Starker.
    Die Kaapstadse Jeugkoor het op 8 Julie 2022 op die verhoog van die Oberammergau Passiespele-teater opgetree.  Dié video is die middag voor die konsert tydens die koor se klankkontrole met 'n iPhone geskiet.

    https://youtu.be/o358C__YhGQ

    4 min
  • Dag 15 van Meditasie-reeks #Pelgrims

    “Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?” (Deut 4:7)

    Israel was 'n “ter wille van”-volk. Soos God aan Abram sê, “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:3).  Deur Israel sou die omliggende volkere ook vir God kon leer ken.  Die Israeliete se leefstyl sou so radikaal anders gewees het, omdat hul God ook radikaal anders was as die omliggende volkere se gode.  Watter ander volk sê van hulle gode, hulle is “n vader vir weeskinders en 'n beskermer van die reg van weduwees” (Ps 68:6)? Dit was destyds ongehoord!  Hoe kan die Allerheilige 'n skuilplek vir gewone mense bied? Wel, Israel was die bewys daarvan:  dit was die Allerhoogste wat hulle as slawe uit Egipte gelei het.  

    Dink jy aan jouself as 'n “ter wille van”-mens?  Ek vra dit vir myself ook af.  Dit is immers wat volgelinge van Jesus is. Van Homself het Jesus (in Luk 4:18-19) gesê, “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Radikaal, “ter wille van…”

    Hoe sou ons weet of ons is?   Dalk deur te vra of die wêreld ons sal mis as ons nie meer daar is nie?  Dink maar aan jou eie gemeente:  as julle kerkgebou vannag verdwyn, watter leemte sal dit aan julle woonbuurt maak?  Die christene sal sekerlik die kerk mis; maar die ander; die nie-christene?  Hulle wat leef met nood? Wat nie vir hulself kan opstaan nie?  Al is dit dan net om te wonder, wie sal nou vir ons intree by die Allerhoogste?

    GEBED:  Here, U is so radikaal aan ons kant, dankie!
     
    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die vyftiende dag se skildery is Jesus Sits by the Seashore and Preaches (Jésus s'assied au bord de la mer et prêche).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/ 13411

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 15 van #Pelgrims kyk ons na die liriekvideo van Casting Crowns se pragtige lied “I'm Still Out Here.”

    Uit die liriek:

    Cause I’m still out here 
    I may be hiding but I’m still hoping 
    To be found here, I’m still out here 
    I’ve been waiting for someone to listen 
    Past the words my hurt is saying 
    Tell me I’m worth saving 
    And that I’m still worth fighting for 
    We’re not the villain 
    We’re not the enemy 
    We’re just broken people 
    Wandering through the dark 
    That’s all we are 
    Loving us is gonna cost you 
    So are you willing to be the light You say you are 
    I hope you are
     

    https://youtu.be/0DVlla4_t5k

    4 min
  • Dag 14 van Meditasie-reeks #Pelgrims


    “Hoe sal ek weet dat ek dit sal besit, Here my God?” (Gen 15:8)

     

    Heel terloops het iemand die opmerking gemaak - “Geloof is 'n waagstuk” – en nou wonder ek steeds daaroor.  Die Bybel noem geloof 'n sekerheid, 'n vaste wete (aldus Heb 11:1). Nee, dan is geloof nie 'n waagstuk nie.  Maar, sou die siniese persoon kon antwoord, dit is tog geloof in iets (of selfs Iemand) wat jy nie kan sien nie. Dit is mos nie 'n sekerheid nie!  Soos wat jy ook nie wind kan sien nie, en dit tog 'n sekerheid is as jy dit hoor, verduidelik Jesus aan Nikodemus (Joh 3:8).

     

    Om valskerm te spring is 'n waagstuk.  Die “feit” dat niks met jou gebeur het nie, maak dit nie minder van 'n waagstuk nie.  Daar is ongelukkig ook nie 'n waarborg dat daar nooit-ooit iets met die valskerm (of met jou) sal gebeur nie. In daardie opsig is geloof ook nie 'n waagstuk nie.  Ons het 'n waarborg.  

     

    Nadat God aan Abram die belofte van 'n land en 'n nageslag gemaak het, wou Abram by God, weet, watter waarborg kan U gee (Gen 15:8)?  Waarop die Here vir Abram beveel, “Bring vir My 'n vers, 'n bok en 'n skaapram, almal drie jaar oud, en 'n tortelduif en 'n jong duif.”  En dan gebeur die mooiste toneel:  God maak Abram aan die slaap, terwyl God 'n verbondsoffer van die diere maak (Gen 15).  Eeue later gebeur dit 'n laaste keer - die keer nie 'n verbondsoffer van diere nie; maar van God self!   Soos Heb 9:13 leer: “Christus het Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.” 

     

    As vertroue op en geloof in God 'n waagstuk is, is dit 'n waagstuk gebasseer op 'n waarborg van Liefde.   Waag dus, en weet by voorbaat,  God beoog selfs vir ons “iets beters” (Heb 11:39) as wat ons verwag.

     

    GEBED: Here, dankie dat U die waagstuk waarborg.

     

    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die veertiende dag se skildery is Jesus Stilling the Tempest (Jésus calmant la tempête).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4493

     

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

     

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

     

    MUSIEK:  Op Dag 14 van #Pelgrims kyk ons na ’n musiekvideo van VOCES8 se “Selig sind die Toten” deur Heinrich Schütz in die St. Martinus Kirche, Hattersheim, Duitsland.

     

    Uit die liriek:

     

    Selig sind die Toten,

    die in dem Herren sterben,

    von nun an.

    Ja der Geist spricht:

    Sie ruhen von ihrer Arbeit

    und ihre Werke folgen ihnen nach.

    Blessed are the dead,

    that die in the Lord

    from now on.

    Yea, the Spirit speaks:

    they rest from their labors

    4 min
  • Dag 13 van Meditasie-reeks #Pelgrims


    “Ek sal julle God wees deur julle hele lewe. Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak, en sal vir julle sorg. Ek sal julle ondersteun en julle red” (Jes 46:4 NLV). “ 

     

    Ek wonder soms of die pelgrimstog van Israel na die Beloofde Land net die ene murmurering was?  Maak 'n mens maar daarmee vrede dat pelgrimwees 'n pad van pyn en beproewing impliseer? Eers die gevaar van die Egiptiese soldate wat jaag (Eks.14). Dán is die water nie soet genoeg nie (Eks 15:22).  Dán is daar nie kos nie (Eks 15:3).  Dán gaan jou leier vir 'n “wegbreek” berg-op en julle moet alleen hier onder agterbly … wie gaan vir ons sorg? (Eks 32).   Krisis, op krisis, op krisis.

     

    Tog, op elke krisis volg die ontdekking dat God daar is:  rigtingloos in 'n woestyn op 'n onbekende ompad voorsien God - “toe-val-lig” – 'n wolk wat wat hul kompas sal word, die ganse reis deur (Eks 13:21:22). “Skielik” is daar voëltjies in die lug om te kan eet en saad om te maal vir meel. En algaande moet die volk ontdek, God is betroubaar.   

     

    Tree vir tree leer jy God vertrou.  Soos Debra Lubov so poëties skryf:  “The pilgrim moves within the geography of faith, along the path on which are scattered traces of holiness.”   Geloof groei algaande sterker, soos jy algaande leer vertrou.  Ons weet dat vertroue net deur 'n verhouding kan ontwikkel.   Anders gaan daar altyd suspisie teenoor die ander een wees.  Ook weet ons dat 'n verhouding net groei wanneer mense tyd saam met mekaar spandeer.  Dieselfde met ons geloofsverhouding en vertroue in God.  Dit was waaroor die pelgrimstog van die Israeliete ook gegaan het:  om te leer om God te vertrou.  Ek is julle God en julle is my volk!

     

    En algaande ontdek jy “scattered traces of holiness”.  

     

    GEBED:  Dankie dat ek ook op my pelgrimslewe die tekens van U teenwoordigheid ontdek.

     

    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ

    https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4471

     

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

     

    MUSIEK:  Op Dag 13 van #Pelgrims kyk ons na die luister ons na “Een Naam” deur Jodi Jantjies wat sy as deel van die ATKV-Crescendo-projek vrygestel het. 

    https://youtu.be/N6-yjcsC1Tg

    4 min
  • Dag 12 van Meditasie-reeks #Pelgrims

    “As die volk in 'n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe teruggaan. Daarom het God die volk met 'n ompad laat gaan.” (Eks 13:17-18) 

    Was die lewe maar eenvoudig…  Dit laat my wonder, sou die verwagtinge van die Israeliete dalk ook eenvoudig gewees het? Soos ons almal se begeerte seker is.  Immers, met God aan ons kant, wie kan teen ons wees, is ons leuse!  

    Dit is tog so eenvoudig: kortpad – die bekende handelsroete, wat maar twee weke sou duur – reguit tot in die Beloofde Land.  Maar, ons lees dat God iets weet wat hulle nie weet nie:  “as hulle in 'n geveg betrokke raak” (Eks 13:17), hoe sou 'n volk – vrygelate slawe – hulself teen die magtigste ryk van daardie tyd kan verdedig.  Daarom stuur God hulle die woestynpad in.  Weg van gevaar.  Nou lyk dit dalk vir julle na 'n “’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal julle alles sien soos dit werklik is” (1 Kor 13:12).  Die ompad is 'n beter pad.

    Almal van ons leef seker maar ompad-langs. Ons ompad-stories mag verskil:  die ompad van verlies of drome aan skerwe;  die ompad van trauma; “onbeantwoorde” gebede.  Almal van ons kom een of ander tyd by 'n (metaforiese) Rooi See wat jou in jou spore stuit.  En dan? Dan murmureer jy. “Mur-mur” – dit is hoe mompel klink.  'n Onderlangs gebrom.  Die-lewe-is-onregverdig mur-mur.  Waarom-díé-woestynpad mur-mur.  Verlangend-na-Egipte mur-mur.  Kwaad mur-mur.  Ek weet jy verstaan, want jy moes dit ook al gedoen het…

    Moses hoor die murmureer.  Meer nog, God hoor die murmureer.  En so lees ons in Eks 16:9 moet Aäron vir die volk sê: “Kom nader voor die aangesig van die Here, want Hy het julle murmureringe gehoor.”  


    Deurentyd sou Israel dit met hul ompad-reis moes leer:  God hoor die murmureer. Kom nader. Leer om God te vertrou. God sal sorg. Al is dit via 'n ompad.


    GEBED: As ek tog maar ag slaan, Vader-God, en nader kom.


    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die twaalfde dag se skildery is Jesus Looking through a Lattice (Jésus regardant à travers le treillis).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4417

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 12 van #Pelgrims kyk ons na die inspirerende nuwe inspirerende lied “Skuiling” van Bouwer Bosch.

    Uit die liriek:


    Trek uit jou skoene want die grond waar ons op staan is heilig
    ons soek skuiling
    geen plek vir woede kan ons dit uitpraat
    ons is veilig 

    https://youtu.be/bXICn2_VVys


    4 min
  • Dag 11 van meditasie-reeks #Pelgrims

    “Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.” (Jer 30:22) 

    Ons val maklik in die strik om aan Bybelkarakters te dink as buitengewoon:  buitengewoon gelowig; buitengewone bidders, ens.  As ek die Bybel reg verstaan, kies God doodgewone mense om God se buitengewone opdragte uit te voer - van die aartsvaders af, regdeur tot by Paulus, tot by my en jou.  Selfs van Israel sê God (in Deut 7:7): “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.”  Nie net die kleinste nie; daarby ook nog onderdrukte slawe in Egipte.  Sulke mense kies God om ‘n pelgrimsreis-van-liefde mee te onderneem.   

    Die uittog uit Egipte het dwarsdeur die Bybel, maar ook deur die geskiedenis  ‘n geloofstorie van verlossing en vertroue geword.  Hulle pelgrimstog het met ‘n dringendheid begin – hulle moes “haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand” (Eks 12:11).  Met elke tree al verder weg van Egipte sou hulle leer wat die belofte van God aan hul voorvader, Abraham, beteken.  God onderneem om vir Abraham én sy nageslagte ‘n God te wees. Maar hoe sou hulle weet wie God is, na 430 jaar lank as slawe van die Farao’s en hul gode? Hoe sou hulle verstaan wat dit beteken om “God se uitverkorenes” te wees? Hulle sou dit moes ontdek.    

    Ons geloofsreis werk ook so:  algaande leer ons dat saamloop met God (m.a.w. bekering) wegdraai van ons eie (metaforiese) “Egipte” beteken.  Ons kan nie bagasie op ons geloofsreis saam neem nie - vandaar die verwysing na “skoene aan die voete en kierie in die hand”.  Op hierdie reis is daar nie plek vir God én vir die afgode van Egipte nie (al het ons afgode dalk net ander name – lees bv Eseg 20:8). 

    GEBED:  Wys my wat ek vashou sodat ek kan laat staan, Here.  

    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die elfde dag se skildery is Jesus Unrolls the Book in the Synagogue (Jésus dans la synagogue déroule le livre).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4471

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 11 van #Pelgrims kyk ons na die liriekvideo van “Always Only Jesus” wat pas deur MercyMe vrygestel is:

    Uit die liriek:

    There's no greater love than Yours
    That tells the dead to sleep no more
    With just the sound, chains will break
    There is freedom In Your name
    There is freedom In Your name
    Every breath I'm breathing will be filled with praise
    Just for one name, always only Jesus
    Let my heart cry holy and my hands be raised
    Just for one name, always only Jesus

    https://youtu.be/o9QhlreeOMM

    4 min
  • Dag 10 van Meditasie-reeks #Pelgrims

    “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.” (Fil 1:6) 

    David Guzak het die aartsvaders (van Gen 12-50) se rol so beskryf: Henog het gewys hoe intimiteit met God in geloof lyk. Noag het gewys hoe geloof deursettingsvermoë kweek en Abraham leer wat gehoorsaamheid aan God is.  Isak illustreer wat die krag van geloof behels; Jakob beeld die dissipline van geloof uit.  Laastens wys Josef hoe dit lyk waar geloof triomfeer.
     
    Hierdie was inderdaad “groot gelowiges”, maar almal had gebroke stories:  Sarah jaag vir Hagar, die slavin en ma van Abraham se eersgeborene, Ishmael, weg uit jaloesie (Gen 21:9-10). Isak bring ‘n tweeling in die wêreld, waarvan een (Jakob) die reputasie as bedrieër verdien (Gen 25:28 e.v.).  Jakob se gesinslewe was geensins idillies nie:  die laatlammetjie, Josef, was ‘n regte klein klikbek (Gen 28:2).  Die broers het nie ooghare vir hom gehad want hulle pa het hom liewer gehad as enige een van die ander broers  (Gen 28:4). In plaas van moord pleeg (Gen 37:20), verkoop hulle vir Josef as ‘n slaaf aan handelaars wat hom Egipte toe neem (Gen 37:25 e.v.).  

    God sou darem sekerlik “beter” mense kon kry?  Tog slaan God juis met hierdie krom stokke reguit houe!  Uit elke gebroke mens haal God die beste.  Elkeen se afdraaipad draai God terug hoofroete toe. God wat aan Abraham ‘n belofte gemaak het, sal getrou bly.  Want, God het ‘n plan en daarom voorsien God ook die blindelingse geloof en hoopvolle sekerheid.    

    As jy aan jou eie potensiaal twyfel of jy vir God bruikbaar is, waarom nie weer die stories van die aartsvaders lees nie.  Ook as jy oor ander se bruikbaarheid wonder.  Oefen intussen self ook maar beter houe te slaan al het jy net ‘n krom stok.

    Gebed:  Vandag dank ek U vir krom stokke, Here.

    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die negende dag se skildery is The Lord's Prayer (Le "Pater Noster").  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4531

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 10 van #Pelgrims kyk ons na die musiekvideo van Leanna Crawford se pas vrygestelde lied “Simple”.

    Uit die liriek:
     
    Take a breath 
    The camera’s off 
    You don’t have to hide the fact 
    We’re all messed up 
    I know you think  
    One more bad move  
    And God will finally  
    Wash his hands of you 
    Ohhhh, Ohhh, Ohhhh hold on 
    That couldn’t be more wrong 
    No such thing as gone too far with God 
    Nothing you can do to earn your spot 
    No where you can go where He is not 
    I know it all sounds unbelievable  
    But believe me it’s that simple 

    https://youtu.be/ka_SC87yI7c

    4 min
  • Dag 9 van Meditasie-reeks #Pelgrims

    “Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” (Rom 12:11 – 1953) 

    Lees ek deur die naamlys van die geloofshelde in Hebreërs 11, sien ek mense wat werklik passievol deur die lewe gegaan het.   Teen alle hoop in het hulle bly glo!   Waar ander sekerlik sou wou handdoek ingegooi het, het hulle – die des nie teenstaande’s – aangehou!  Waar ander lankal na die ou bekende kospotte van Egipte sou verlang, het die geloofspelgrims vorentoe gebeur.  Niks kon hulle vurige sekerheid - dat God aan God se beloftes getrou sal bly - demp nie.

    Wat die geloofshelde van Hebreërs by my wakkermaak, is ‘n dringende passie om ook my lewe met krag en durf te leef.  Dit is wat geloof met ‘n mens maak:  dit maak van ‘n louwarm-mens ‘n kookwater-mens.  Hoe kom die woorde van Jesus oor Homself dan dadelik in my gedagtes op:  “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!” (Luk 12:49).  Ons praat immers daarvan om “aan die brand” vir God te wees.  Is dit nie hoe gelowige mense behoort te wees nie?    

    Die woord “vurig” word dwarsdeur die Bybel gebruik om ons “kookpunt-geloof” in God te beskryf.  Soos die Boodskap-vertaling van Rom 12:11 herinner, “Moenie vir een enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek sodat julle voluit vir God kan leef.  

    Ons sien daagliks genoeg vurige mense rondom ons:  vurig kwaad wanneer hulle verontreg is; vurig geïrriteerd as hulle te na gekom word; vurig krities op ander.  Laat ons ‘n ander vurigheid aan die brand steek. Vurig aangevuur deur die Heilige Gees. Vurig om die wil van God te doen. Vurig in ons naasteliefde. Vurige gehoorsames.

    GEBED:  Heilige Gees, vuur my met U krag en liefde aan om voluit vir God te leef.
    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die negende dag se skildery is The Transfiguration (La transfiguration).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/4516

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 9 van #Pelgrims kyk ons na die musiekvideo van “Holy Ghost Fire”deur Vinesong.

    Uit die liriek:

    Lord we’ve been so far from You
    Caught up in the cares of life
    Our hearts have been so very full Lord
    Filled with trouble and strife
    We have turned our eyes away from You Lord
    Knowing that we’ve needed You
    Jesus bring Your presence
    Fire deep inside 


    https://youtu.be/uvbar_Au7Uo

    4 min
  • Dag 8 van Meditasie-reeks #Pelgrims

    “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb 11:1)

    “Berekendheid” en “waarborge” is vir moderne mense belangrik alvorens ons besluite neem.  Nie vir die gelowiges van Hebreërs 11 nie.  By hulle leer ons van “blindelings glo” en “hoopvolle sekerheid.”   In Heb 11:8 staan bloot: “Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het … Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.”  Net dit: “gaan, Ek sorg!” Blindelingse geloof.  Hoopvolle sekerheid.    

    Soos Stefanus ook sou sê, “toe Abraham nog in Mesopotamië was (vandag se Iraq) … het God vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys’” (Hand 7:2 e.v).   Haal jou hoed vir Abraham af:  hy vertrek uit Ur (in Iraq) noordwaarts na Haran (in Turkeye), dan terug deur Kanaän, en eindig – ver suid - in Egipte!  Net omdat hy ‘n opdrag gekry het van “die Here, God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde” (Gen 14:22). Blindelingse geloof. Hoopvolle sekerheid.  

    Was Abraham ‘n besondere man? Ek weet nie.  Ek weet wel dat hy voete van klei gehad het. Waarom sou hy sy vrou wou “inruil” by die Egiptiese Farao (Gen 12:10)? Waarom sou hy ‘n kind by ‘n slavin gehad het, t.s.v. God se beloftes van ‘n nageslag (Gen 16)?  Ek dink hy was maar soos ons: net ‘n gewone mens, maar een wat bereid was om met die Skepper van hemel en aarde ‘n kans te waag.  

    Ek wonder wat God wil hê ons hieruit moet leer? Ek wonder nie, eintlik weet ek!  Dieselfde as wat God van Abraham gevra het:  Blindelingse geloof en hoopvolle sekerheid.    

    GEBED:  Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, U vra niks waarvoor U ook nie mildelik voorsien nie.

    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die agtste dag se skildery is The Blind in the Ditch (Les aveugles dans le fossé).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/13417

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 8 van #Pelgrims kyk ons na die liriekvideo van  “Don't Be Afraid” deur Tom Mottershead.

    Uit die liriek:

    Don’t be afraid
    For the Lord God is with you
    Wherever you are
    Don’t be dismayed
    For the Lord God is with you
    Wherever you go
    When I’m wandering, you remind me I’m safe here, held in your heart 
    When I’m afraid, I know I can always run to your arms

    https://youtu.be/T-gByinq_2w

    4 min
  • Dag 7 van meditasie-reeks #Pelgrims

    “Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.” (Ef 2:9)

    Die teenoorgestelde van vreemdeling en bywoners is die magtige mense; die hulle wie se sê tel; hulle met die regte reputasies; wat niemand aanstoot gee deur wie hulle is nie (en veilig met hulle eie lewens kan voortgaan sonder vrees dat iemand hulle sal steur).  Die teenoorgestelde van vreemdelinge en bywoners, is hulle wat so goed aard waar hulle is, dat hulle selfs kan wortelskiet.  

    Wat Jesus van die ryk jong man vra , nadat díé wou weet wat hy nóg moet doen om aan die wet gehoorsaam te wees (Luk 18:18-30), is presies dit:  gee alles prys sodat jy (volgens die wêreld se standaarde) ook ‘n vreemdeling en ‘n bywoner kan word.  Vreemdeling en bywoner het niks wat hulle kan verloor nie, want hulle hét niks!  As God aan hulle ‘n opdrag gee, kan hulle – sonder om te huiwer – doen wat God van hulle vra.  

    Paulus getuig ook so oor sy eie lewe:  “Wat eers vir my 'n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees…” (Fil 3:7-9).  Kry ek dit reg, vra Paulus?  Nee!  “Maar, ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (V13-14).  

    So word ons bywoners (volgens wêreldse standaarde), en lede van die huisgesin van God!

    GEBED:  Wys my, Here, waaraan ek nog vashou! 

    KUNS: Al ons daaglikse kunswerke vir die #Pelgrims-reeks in November is deel van ’n stel van 350 waterverfskilderye (1886 – 1894) deur die Franse skilder James Tissot. Almal is op ondeursigtige waterverf oor grafiet op grys geweefde papier. Dis aangekoop in 1900 vir die Brooklyn Museum en is in die volksmond bekend as “The Life of Christ”.  Die sewende dag se skildery is The Man Who Hoards (L'homme qui thésaurise).  https://www.brooklynmuseum.org/opencollection/objects/13401

    POTGOOIE:  Luister ook op alle bekende potgooi-platforms. https://ronellbezuidenhout.buzzsprout.com/

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    MUSIEK:  Op Dag 7 van #Pelgrims kyk ons na ’n musiekvideo van “Meu Respirar/Breathe” deur Central 3 uit Brasilië saam Revere in Nashville. Die lied  is aanvanklik deur Michael W. Smith bekend gemaak.

    Uit die liriek:

    Dit is my asemhaling
    U Heilige Gees woon in my
    En dit is my brood
    U wil in my gemaak
    En ek, ek is niks sonder U nie
    En ek verlore, ek is uit U

    https://youtu.be/mcBbm9FdeSg

    #Pelgrims #LeefHoop #ElkeDag

    4 min

About Ronell Bezuidenhout: Daaglikse meditasie-potgooi en Veelkleurig-onderhoude

From the publisher's feed

Luister na daaglikse potgooie met geloofsnadenke deur die teoloog en leraar, dr. Ronell Bezuidenhout. Jy kan beslis verwag om uitgedaag te word. Ronell se fokus is om “hoop” deur haar boodskappe…