Politieke moorde is weer onder die soeklig na die dood van twee ANC-lede. Mandisi Xakaxa, 'n takleier in Port Elizabeth, is Woensdagaand in die oprit van sy huis doodgeskiet. Volgens inligting hou sy dood verband met die toekenning van tenders. In 'n ander voorval is Sindiso Magaqa, 'n wyksraadslid van Umzimkulu, Maandag dood aan beserings wat hy opgedoen het in Julie toe hy in lokval gelei en geskiet is. Intussen het die ANC twee lyfwagte van 'n amptenaar in KwaZulu-Natal afgedank na die twee 'n video gemaak het waarin hulle gedreig het om iemand soos 'n hond dood te skiet. Die DA het na aanleiding hiervan gevra dat Sihle Zikalala, ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal, moet aandui of hy voor die Moerane-kommissie gaan verskyn wat ondersoek instel na politieke moorde in KwaZulu-Natal. Ons praat nou oor die verskynsel met die politieke ontleder, doktor Piet Croucamp, aan Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus.