'n Kaapse fondsbestuurder is uitgewys as die beweerde baasbrein van 'n reuse internasionale sogenaamde Ponzi-skema wat miljarde rand beloop. Cobus Kellerman is die uitvoerende hoof van Clarus Capital. Dit gons in finansiële kringe na 'n Amerikaanse maatskappy, Offshore Alert, 'n waarskuwing uitgestuur het oor wat na bewering dalk een van die grootste Ponzi-skemas nog is. So het Monitor en Spektrum, soos talle ander media-instellings in Maart 2015 berig oor Cobus Kellerman en sy vennoot David Cosgrove se sakebedrywighede. Ons het destyds met die joernalis en uitvoerende hoof van Biznews, Alec Hogg hieroor gepraat. Hogg het die storie gebreek. Intussen blyk dit dat die grootste Ponzi-skema dalk glad nie een was nie. Ons praat nou hieroor met die redakteur van Moneyweb, Ryk van Niekerk. Hogg het 'n uitnodiging om aan die gesprek deel te neem van die hand gewys.